1 Kronieke 15:20-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja het die harpe met die hoë toon bespeel.

21. Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja het die liere met die laer toon ter begeleiding bespeel.

22. Kenanja was leier van die Leviete wat die drawerk gedoen het. Hy het die werk gereël, want hy het geweet hoe.

23. Berekja en Elkana was poortwagte by die ark.

24. Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser het die trompette geblaas voor die ark van God uit. Obed-Edom en Jegija was ook poortwagte by die ark.

25. Dawid, die leiers van Israel en die aanvoerders van duisend het die verbondsark van die Here in feestelike stemming uit die huis van Obed-Edom gaan inbring.

26. Hulle het sewe bulle en sewe ramme geoffer om God se hulp te vra vir die Leviete wat die verbondsark van die Here gedra het.

27. Dawid het 'n mantel van fyn linne aangehad, so ook al die Leviete wat die ark gedra het, die sangers, en Kenanja, wat in bevel was van die sangers. Dawid het ook nog 'n linneskouerkleed gedra.

28. So het die hele Israel die verbondsark van die Here ingebring met feeskrete, ramshoring- en trompetgeskal, simbaalslae en die musiek van harpe en liere.

29. Terwyl die verbondsark van die Here die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans, en sy het hom in stilte verag.

1 Kronieke 15