Psalms 70 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

Dawid bid God om hom gou te verlos.

1. VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer.

2. o God, maak tog gou om my te red, o Here, om my te help!

3. Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my ongeluk, agteruitwyk en in die skande kom.

4. Laat hulle wat sê: Ha, ha! teruggaan vanweë hul beskaming.

5. Laat in U vrolik en bly wees almal wat U soek; en laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is God!

6. Maar ek is ellendig en behoeftig: o God, kom tog gou na my! U is my hulp en my redder; Here, vertoef tog nie!