Psalms 110 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

Die Priesterkoning.

1. VAN Dawid. ’n Psalm. Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.

2. U magtige septer sal die Here uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.

3. U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe.

4. Die Here het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.

5. Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.

6. Hy sal ’n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ’n hoof oor ’n groot land.

7. Uit die stroom sal Hy drink op die pad; daarom sal Hy die hoof ophef.