Psalms 5 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

Gebed by die môre-offer.

1. VIR die musiekleier; met fluite. ’n Psalm van Dawid.

2. o Here, luister na my woorde, let op my versugting.

3. Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.

4. In die môre, Here, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.

5. Want U is nie ’n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.

6. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid.

7. U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die Here ’n afsku.

8. Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees.

9. Here, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg.

10. Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is ’n oop graf; hulle maak hul tong glad.

11. Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U.

12. Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.

13. Want U seën die regverdige, o Here, U omring hom met welbehae soos met ’n skild.