Jesaja 13:2-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Hef op ’n banier op ’n kaal berg; roep hulle hardop toe, wink met die hand, dat hulle kan intrek deur die poorte van die edeles.

3. Ek self het my geheiligdes ontbied; ook het Ek my helde tot my toorn geroep, my manne wat jubel in trotsheid.

4. Hoor, ’n gedruis op die berge soos van baie mense! Hoor, ’n rumoer van die koninkryke, van versamelde nasies! Die Here van die leërskare hou wapenskouing oor ’n oorlogsleër.

5. Hulle kom uit ’n ver land, van die einde van die hemel af, die Here en die werktuie van sy grimmigheid, om die hele aarde te verwoes.

6. Huil julle, want die dag van die Here is naby; hy kom as ’n verwoesting van die Almagtige.

7. Daarom word al die hande slap, en elke mensehart versmelt;

8. en hulle is verskrik, kry krampe en weë; hulle krimp inmekaar soos een wat baar; die een kyk die ander verbaas aan; hulle gesigte is vlammende gesigte.

9. Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ’n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.

10. Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie.

11. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.

12. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.

13. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed.

14. En soos ’n gemsbok wat gejaag word, en soos kleinvee wat niemand bymekaar maak nie, sal hulle elkeen draai na sy volk toe en elkeen vlug na sy land toe.

15. Elkeen wat gevind word, word deurboor; en elkeen wat gegryp word, val deur die swaard.

16. En hulle kinders word voor hul oë verpletter, hul huise geplunder en hul vroue onteer.

Jesaja 13