Jeremia 50:24-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Ek het vir jou ’n strik gespan, en jy is ook gevang, o Babel, sonder dat jy dit geweet het; jy is betrap en ook gegryp, omdat jy jou teen die Here in die stryd begeef het.

25. Die Here het sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van sy grimmigheid uitgebring; want ’n werk is dit wat die Here Here van die leërskare te doen het in die land van die Chaldeërs.

26. Kom aan teen hom van alle kante, maak oop sy voorraadskure, stapel hom op soos koringmiede, en tref hom met die banvloek! Hy moet geen oorblyfsel hê nie.

27. Slaan dood al sy jong stiere, laat hulle afgaan om geslag te word. Wee hulle, want hulle dag het gekom, die tyd van hulle besoeking.

28. Hoor! Vlugtelinge en mense wat vrygeraak het uit die land van Babel, om in Sion te verkondig die wraak van die Here onse God, die wraak van sy tempel.

29. Roep teen Babel skutters op, almal wat die boog span; slaan laer op rondom teen hom, laat daar geen ontkoming wees nie! Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die Here, teen die Heilige van Israel.

30. Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine en al sy krygsmanne in dié dag omkom, spreek die Here.

31. Kyk, Ek het dit teen jou, o vermetele, spreek die Here Here van die leërskare; want jou dag het gekom, die tyd dat Ek oor jou besoeking sal doen.

32. Dan sal die vermetele struikel en val, en daar sal niemand wees wat hom optel nie; en Ek sal ’n vuur aansteek in sy stede, en dit sal sy hele omgewing verteer.

33. So sê die Here van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek.

34. Maar hulle Verlosser is sterk, Here van die leërskare is sy Naam; Hy sal hulle saak sekerlik verdedig, om die aarde rus te gee en die inwoners van Babel in onrus te bring.

35. Die swaard oor die Chaldeërs, spreek die Here, en oor die inwoners van Babel en oor sy vorste en oor sy wyse manne!

36. Die swaard oor die grootpraters, dat hulle dwaas kan word! Die swaard oor sy helde, dat hulle verskrik kan word!

37. Die swaard oor sy perde en sy strydwaens en oor die hele gemengde bevolking wat daar binne-in is, dat hulle vroue kan word! Die swaard oor sy skatte, dat hulle geplunder kan word!

38. Droogte oor sy waters, dat hulle kan uitdroog! Want dit is ’n land van gesnede beelde, en deur die skrikgestaltes is hulle waansinnig.

39. Daarom sal daar boskatte saam met wildehonde bly; ook sal daar volstruise in bly; ’n mens sal daar in ewigheid nie meer bly nie, en dit sal nie bewoon word van geslag tot geslag nie.

40. Soos God Sodom en Gomorra met hulle bure omgekeer het, spreek die Here, sal daar niemand woon nie, en geen mensekind daar vertoef nie.

Jeremia 50