Jeremia 25:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE woord wat tot Jeremia gekom het aangaande die hele volk van Juda, in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda — dit was die eerste jaar van Nebukadrésar, die koning van Babel —

2. waarmee die profeet Jeremia die hele volk van Juda en al die inwoners van Jerusalem toegespreek en gesê het:

3. Vanaf die dertiende jaar van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, tot op hierdie dag — nou drie-en-twintig jaar lank — het die woord van die Here tot my gekom; en ek het julle toegespreek, vroeg en laat, maar julle het nie geluister nie.

4. Ook het die Here al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat — maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie —

5. met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die Here aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu;

6. en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie.

7. Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die Here — om My te terg met die werk van julle hande, julle tot skade.

8. Daarom, so sê die Here van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie,

9. laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die Here, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ’n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.

10. En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp.

11. En hierdie hele land sal ’n puinhoop, ’n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.

12. En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die Here, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak.

13. En Ek sal oor dié land bring al my woorde wat Ek daaroor gespreek het — alles wat geskrywe is in hierdie boek, wat Jeremia geprofeteer het oor al die nasies.

14. Want hulle sal ook diensbaar gemaak word deur magtige nasies en groot konings, en Ek sal hulle vergelde ooreenkomstig hul dade en die werk van hul hande.

15. Want so het die Here, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur,

16. dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur.

Jeremia 25