12. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die Here.
13. Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.
14. En hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees, en julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Julle moet dit in julle geslagte as ’n ewige insetting vier.
15. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word.
16. En op die eerste dag moet daar ’n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word.
17. Onderhou dan die ongesuurde brode, want op daardie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ’n ewige insetting hou.
18. In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand.
19. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al ’n vreemdeling is of ’n kind van die land.
20. Julle mag niks eet met suurdeeg in nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde brode eet.
21. Moses het toe al die oudstes van Israel laat roep en aan hulle gesê: Gaan haal vir julle kleinvee vir julle families en slag die pasga.
22. En neem ’n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.
23. Want die Here sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die Here by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.
24. Onderhou dan hierdie saak as ’n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid.
25. En as julle in die land kom wat die Here aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou.
26. En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar?
27. dan moet julle sê: Dit is ’n paasoffer aan die Here, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig.
28. En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos die Here Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
29. En middernag het die Here al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere.
30. Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ’n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.
31. Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die Here soos julle gespreek het.
32. Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook.