Eségiël 10:5-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En die geruis van die gérubs se vlerke is gehoor tot in die buitenste voorhof, soos die stem van die almagtige God as Hy spreek.

6. En toe Hy aan die man wat met linne bekleed was, bevel gegee het deur te sê: Neem vuur tussen die ratwerk, tussen die gérubs uit, het hy ingegaan en langs die wiel gaan staan.

7. Toe steek die gérub sy hand uit, tussen die gérubs uit, na die vuur wat tussen die gérubs was; en hy neem daarvan en gee dit in die twee hande van hom wat met linne bekleed was; dié het dit geneem en uitgegaan.

8. En daar is aan die gérubs gesien die vorm van ’n mens se hand onder hulle vlerke.

9. Toe het ek gekyk — en daar was vier wiele langs die gérubs, telkens een wiel langs elke gérub; en die voorkoms van die wiele was soos dié van chrisoliet.

10. En aangaande hulle voorkoms, al vier het dieselfde voorkoms gehad, asof daar ’n wiel binne-in ’n wiel was:

11. as hulle gaan, het hulle na al vier kante gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie; maar daar waar die voorste heen draai, het hulle agter hom aan gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.

12. En hulle hele liggaam en hulle rugge en hulle hande en hulle vlerke en die wiele was vol oë rondom, aan al die vier wiele van hulle.

13. Aangaande die wiele, hulle is voor my ore die ratwerk genoem.

14. En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ’n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ’n mens en die derde die aangesig van ’n leeu en die vierde die aangesig van ’n arend.

15. En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het.

16. En as die gérubs gaan, gaan die wiele naasaan hulle; en as die gérubs hulle vlerke ophef om van die grond af op te styg, het die wiele ook nie weggedraai naasaan hulle nie.

17. As dié bly staan, staan hulle; en as dié opstyg, het hulle saam opgestyg; want die gees van die wese was in hulle.

18. En die heerlikheid van die Here het van die drumpel van die huis af weggetrek en bo die gérubs gaan staan.

19. En die gérubs het hulle vlerke opgehef en voor my oë van die grond af opgestyg toe hulle weggetrek het, en die wiele gelyktydig met hulle saam; en hulle het gaan staan by die ingang van die Oostelike Poort van die huis van die Here, terwyl die heerlikheid van die God van Israel bo-oor hulle was.

20. Dit is die wese wat ek onder die God van Israel by die Kebarrivier gesien het; ek merk toe dat dit gérubs was.

21. Elkeen het vier aangesigte en elkeen vier vlerke gehad; en iets in die vorm van mensehande was onder hulle vlerke.

Eségiël 10