2 Samuel 15:21-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Maar Íttai het die koning geantwoord en gesê: So waar as die Here leef en my heer die koning leef, voorwaar, op die plek waar my heer die koning sal wees vir dood of vir lewe, daar sal u dienaar sekerlik ook wees!

22. Toe sê Dawid vir Íttai: Gaan, trek dan verby! En Íttai, die Gittiet, het verbygetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.

23. En die hele land het hardop gehuil terwyl al die mense verbytrek; en die koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad na die woestyn.

24. En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergesit — Ábjatar het ook opgetrek — totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.

25. Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die Here, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien.

26. Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie — hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë.

27. Verder het die koning aan die priester Sadok gesê: U is tog siener? Gaan in vrede na die stad terug, en julle twee seuns, Ahímaäs, jou seun, en Jónatan, die seun van Ábjatar, met julle saam.

28. Kyk, ek vertoef by die woestyndriwwe totdat daar ’n woord van julle kom om my in te lig.

29. En Sadok en Ábjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar gebly.

30. En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween.

31. Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitófel is onder die samesweerders met Absalom saam, het Dawid gesê: o Here, verydel tog die raad van Agitófel!

32. En toe Dawid tot bo-op die top kom, waar hulle God aanbid het, ontmoet Húsai, die Arkiet, hom daar, met geskeurde rok en grond op sy hoof.

33. En Dawid sê vir hom: As jy saam met my verder gaan, sal jy my tot ’n las wees.

34. Maar as jy teruggaan na die stad en vir Absalom sê: U dienaar, o koning, wil ek wees; tevore was ek wel u vader se dienaar, maar nou is ek u dienaar — dan kan jy vir my die raad van Agitófel verydel.

35. En is die priesters Sadok en Ábjatar nie daar saam met jou nie? Alles wat jy dan hoor uit die huis van die koning, moet jy aan Sadok en Ábjatar, die priesters, te kenne gee.

36. Kyk, hulle twee seuns is daar by hulle, Ahímaäs van Sadok en Jónatan van Ábjatar, en deur hulle moet julle alles wat julle verneem, aan my laat weet.

37. Daarop het Húsai, die vriend van Dawid, in die stad gekom, terwyl Absalom aankom na Jerusalem.

2 Samuel 15