1 Konings 11:5-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs, en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop.

6. So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en nie volgehou om die Here te volg soos sy vader Dawid nie.

7. Toe het Salomo ’n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon.

8. En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en geoffer het aan hulle gode.

9. Daarom was die Here toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die Here, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het,

10. en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het die bevel van die Here nie gehou nie.

11. Daarom het die Here vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.

12. Maar in jou dae sal Ek dit nie doen nie ter wille van jou vader Dawid; uit die hand van jou seun sal Ek dit afskeur.

13. Maar Ek sal nie die hele koningskap afskeur nie; een stam sal Ek aan jou seun gee ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek verkies het.

14. EN die Here het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet; hy was van die koninklike familie in Edom.

15. Toe Dawid dan met Edom besig was, en Joab, die leërowerste, opgetrek het om die gesneuweldes te begrawe, het hy al wat manlik was, in Edom doodgeslaan —

16. want ses maande lank het Joab daar gebly met die hele Israel totdat al die manlike persone in Edom deur hom uitgeroei was —

17. maar Hadad het ontvlug, hy en saam met hom Edomitiese manne uit die dienaars van sy vader, om na Egipte te gaan; en Hadad was ’n jong seun.

18. En hulle het uit Mídian weggetrek en in Paran aangekom, en uit Paran manne met hulle saamgeneem en in Egipte aangekom by Farao, die koning van Egipte, wat hom ’n huis gegee en aan hom voedsel toegesê en hom grond gegee het.

19. En Hadad het groot guns gevind in die oë van Farao, sodat dié aan hom sy vrou se suster, die suster van Tágpenes, die gebiedster, as vrou gegee het.

20. En die suster van Tágpenes het vir hom sy seun Genúbat gebaar, maar Tágpenes het hom in die huis van Farao gespeen, sodat Genúbat in die huis van Farao was onder die kinders van Farao.

21. Maar toe Hadad in Egipte hoor dat Dawid met sy vaders ontslaap het en Joab, die leërowerste, dood was, sê Hadad vir Farao: Laat my gaan, dat ek na my land kan trek.

22. Daarop sê Farao vir hom: Maar wat ontbreek jou by my, dat jy meteens begeer om na jou land te trek? En hy antwoord: Niks nie, maar laat my tog maar gaan.

23. God het ook as teëstander vir hom verwek Reson, die seun van Éljada, ’n vlugteling van sy heer Hadadéser, die koning van Soba.

1 Konings 11