15. Want as die Jode se verwerping meegebring het dat God vir die hele wêreld die herstel van hulle verhouding met Hom aanbied, hoeveel wonderliker sal die Jode se aanneming nie wees nie! Dit sal niks minder nie as lewe uit die dood beteken!
16. As die eerste stukkie deeg aan God geoffer word, beteken dit dat die hele baksel eintlik aan Hom behoort. Net so, as die wortels van die boom aan God gewy is, sal die takke ook aan Hom behoort.
17. Party van die takke van hierdie boom – van die Joodse takke – is uitgekap en jy, die wilde olyf, is op die mak boom geënt. So deel jy ook nou in die lewensap wat van die mak olyf se onderstam af opstoot.
18. Maar oppas om jou bors hieroor uit te stoot. Dit is immers nie jy wat die onderstam dra nie, maar juis andersom.
19. Jy kan dalk sê: “Die takke is uitgekap sodat ek geënt kan word.”
20. Toegegee – hulle is egter as gevolg van hulle ongeloof uitgekap terwyl jy nou daar is omdat jy glo. Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein voor God.
21. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan Hy jou dalk ook nie spaar nie.
22. Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak. Anders kan jy ook afgesny word.
23. En as die Jode nie volhard in hulle ongeloof nie, sal God hulle weer op die olyfboom terug-ent. Hy besit die mag om dit te kan doen.
24. Want as God bereid was om julle, wat van nature takke van die wilde olyf was, af te sny en julle op die mak olyf oor te ent – wat ’n baie ongewone ding was om te doen – hoeveel eerder sal Hy nie die Jode wil terug-ent op die boom waar hulle hoort nie!
25. Ek wil graag aan julle ’n geheim vertel, broers en susters, wat God aan my bekendgemaak het. Ek doen dit om te voorkom dat julle te slim in julle eie oë word. Dit gaan daaroor dat die verharding net vir ’n beperkte tyd oor Israel gekom het totdat die volle getal uit die nie-Joodse nasies onder die koningsheerskappy van God gekom het.
26. En so sal die hele Israel verlos word. Daar staan mos in die Skrif:“’n Redder sal uit Jerusalem kom,en Hy sal Israel se goddeloosheidvan hom verwyder.
27. En dan sal Ek hierdie verbond met hulle sluitwanneer Ek hulle sondes wegneem.”
28. Hulle is op die oomblik wel vyande van die Goeie Nuus, maar dit kom julle ten goede omdat God sy gawes nou aan julle geskenk het. Tog is hulle, wat God se uitverkiesing betref, nog steeds geliefdes van God – Hy het immers sy beloftes aan die aartsvaders gegee