Rigters 21:8-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Hulle vra toe weer: “Is daar enige van die stamme van Israel wat nie opgedaag het by die byeenkoms vir die Here in Mispa nie?” Hulle vind toe uit dat daar niemand uit Jabes-Gilead na die byeenkoms toe gekom het nie.

9. Hulle het weer almal getel wat daar was en daar was werklik niemand uit Jabes-Gilead nie.

10. Die vergadering het toe van daar af 12 000 soldate gestuur met die bevel: “Gaan daarnatoe en gaan maak almal dood wat in Jabes-Gilead bly, ook die vroue en die kinders.

11. Wis elke man en elke vrou, wat al by ’n man geslaap het, heeltemal uit.”

12. Hulle het tussen die inwoners van Jabes-Gilead 400 meisies gekry wat nog nooit met ’n man geslagsgemeenskap gehad het nie. Die soldate het hulle saamgebring na die kamp by Silo in Kanaän.

13. Die vergadering stuur toe ’n vredesending na die Benjaminiete wat by die Rimmonrots weggekruip het.

14. Die Benjaminiete het teruggegaan na hulle huise toe. Hulle het die meisies uit Jabes-Gilead wie se lewens gespaar is, gekry om mee te trou. Daar was egter nie genoeg vroue vir almal nie.

15. Die volk het Benjamin jammer gekry omdat die Here hierdie oop kol tussen die stamme van Israel gelaat het.

16. Toe vra die leiers van die vergadering: “Waar kan ons nog vroue kry vir die ander Benjaminiete? Die vroue van Benjamin is almal uitgewis.”

17. Hulle het gesê: “Daar moet tog erfgename wees vir die Benjaminiete wat oorleef het. ’n Stam kan mos nie net so uit Israel verdwyn nie.

18. Ons kan nie ons dogters met hulle laat trou nie, want die Israeliete het ’n eed afgelê dat elkeen vervloek is wat vir ’n Benjaminiet ’n vrou gee.”

19. “Maar wag,” sê hulle. “Daar is mos elke jaar ’n fees vir die Here in Silo.” Silo is tussen Bet-El en Lebona. Dit is noord van Bet-El, oos van die grootpad wat van Bet-El af na Sigem toe opgaan en suid van Lebona.

Rigters 21