9. Moses het gemaak soos die Here gesê het en die stok by die ark gaan haal.
10. Moses en Aäron het die mense by die rots bymekaargekry. “Luister, julle opstandige mense,” het hy vir hulle gesê. “Moet daar vir julle water uit die rots kom?”
11. Moses het sy hand opgelig en twee keer met die stok teen die rots geslaan. Daar het toe water uitgeborrel. Al die mense en hulle vee het gedrink totdat hulle versadig was.
12. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle het my nie genoeg vertrou om vir die Israeliete te wys hoe heilig Ek is nie. Jy sal daarom nie hierdie mense inlei in die land wat Ek vir julle sal gee nie.”
13. Vandaar die naam “Waters van Meriba”, want die Israeliete het daar met die Here getwis. Daar het Hy vir hulle gewys hoe heilig Hy is.
14. Moses het van Kades af boodskappers na die koning van Edom gestuur: “Jou broersvolk Israel sê: Jy weet watter ontberings ons gely het.
15. Ons voorouers het afgegaan na Egipte toe. Ons het baie jare in Egipte gewoon. Egipte het ons voorouers baie sleg behandel.
16. Ons het die Here om hulp gesmeek. Hy het ons gebede verhoor en sy engel na ons toe gestuur. Hy het ons uit Egipte gelei. Ons is nou by Kades op die grens van jou land.
17. “Gee tog toestemming dat ons deur jou land kan trek. Ons sal nie deur jou veld of jou wingerde trek nie. Ons sal ook nie water uit jou putte gebruik nie. Ons sal op die Hoofweg van die Konings bly sonder om links of regs af te wyk totdat ons dwarsdeur jou gebied is.”
18. Die koning van Edom het hulle geantwoord: “Julle mag nie deur my gebied trek nie! Ek sal met my weermag teen julle uittrek!”
19. Die Israeliete het hom laat weet: “Ons sal met die grootpad langs hou. As ons of ons vee van jou water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil werklik niks anders doen nie as net om deur jou gebied te trek.”
20. Hy het teruggeantwoord: “Julle trek nie hier deur nie!” Edom het toe met ’n groot en goed gewapende weermag uitgetrek om teen hulle te veg.
21. Omdat Edom geweier het om Israel toestemming te gee om deur sy gebied te trek, het Israel van hom af weggeswenk.
22. Hulle is toe weg van Kades af en die groep Israeliete het by die Horberg aangekom.
23. By die Horberg, op die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê:
24. “Aäron gaan nou by sy vaders versamel word. Hy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee nie. Julle twee wou mos nie na my luister by die water van Meriba nie.
25. Vat nou vir Aäron en sy seun Eleasar saam met jou en klim uit teen die berg Hor.