20. Onderweg het ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af na Jesus toe gekom en aan die soom van sy bo-kleed geraak,
21. want sy het by haarself gedink: “Al kan ek tog maar net aan sy bo-kleed raak, sal ek gesond word.”
22. Toe Jesus omdraai en haar sien, het Hy vir haar gesê: “Skep moed, my dogter. Omdat jy so vas geglo het, is jy nou gesond.” En die vrou was van daardie oomblik af heeltemal genees.
23. Toe Jesus by die vername man se huis aankom, kry Hy daar mense wat begrafnismusiek maak en ’n hele klomp wat kerm en huil.
24. Daarop sê Hy vir hulle: “Gaan buitentoe; die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.” Maar hulle het Hom uitgelag.
25. Nadat die klomp buitentoe gejaag is, het Jesus in die dogtertjie se kamer gegaan, haar hand gevat, en sy het opgestaan.
26. Hierdie nuus het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei.
27. Toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes agter Hom aan gekom. Hulle het hardop geskreeu: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”
28. Nadat Jesus in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?” Hulle sê vir Hom: “Ja, Here, ons glo U kan dit doen.”
29. Hy raak toe hulle oë aan en sê: “Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur.”
30. Daarop kon hulle sien! Jesus het hulle toe ernstig gewaarsku: “Maak seker dat julle niemand hiervan vertel nie.”
31. Ten spyte daarvan het hulle weggegaan en oral gaan vertel hoe wonderlik Jesus is.
32. Die twee wat gesond gemaak is, was nog besig om te vertrek toe mense iemand na Hom toe bring wat stom was omdat ’n bose gees beheer oor hom gehad het.
33. Nadat Jesus die duiwel uit hom gejaag het, het die stom man begin praat. Die skare was oorweldig en het gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie!”
34. Maar die Fariseërs se reaksie was: “Dit is die baasduiwel wat Hom help om duiwels uit mense uit te jaag.”
35. Jesus het deur al die dorpe en kleiner plekkies rondbeweeg. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.