5. En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’
6. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaarskeur nie.”
7. Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ’n man kan sommer net vir sy vrou ’n skeidokument gee en haar dan laat gaan?”
8. Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ’n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie.
9. Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.”
10. Sy dissipels sê vir Hom: “As dit met mans en vroue die geval is, moet ’n mens maar liewer nie trou nie!”
11. “Nie almal sal met julle saamstem nie,” het Hy vir hulle geantwoord. “Daar is dié vir wie dit gegee is om nie te trou nie.
12. Sommige is so van hulle geboorte af; ander is deur menslike mishandeling so gemaak; nog ander het ter wille van die koningsheerskappy van God self verkies om so te bly. Wie die nodige insig het, laat hy dit verwerk.”
13. Op ’n dag is kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon plaas en vir hulle kon bid. Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek.
14. Maar Jesus se reaksie was: “Laat staan die kindertjies. Moenie hulle keer om na My toe te kom nie, want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”
15. En Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Daarna het Hy vertrek.
16. Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
17. Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.”
18. Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?”Jesus het geantwoord: “‘Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie ontrou wees in jou huwelik nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie onwaar getuienis aflê nie;
19. respekteer jou pa en ma; jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”
20. “Ek het al hierdie gebooie nagekom,” antwoord die jong man, “wat moet ek nóg doen?”