Matteus 12:31-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. “Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie.

32. Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie.

33. “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie.

34. “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

35. ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

36. Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê.

37. Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”

38. Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ’n wonderteken van U sien om te bewys dat U van God af kom.”

39. Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona.

40. Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees.

41. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie.

42. Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister!

43. “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie.

44. Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant.

45. Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”

46. Jesus was nog besig om met die skare te praat, toe staan sy ma en sy broers buitekant. Hulle wou met Hom praat.

Matteus 12