Levitikus 21:5-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. “Die priesters mag nooit hulle hare of die baard aan die kant van hulle gesig afskeer nie. Hulle mag ook nie snye op hulle liggame maak nie.

6. Hulle is afgesonder vir God as heilig en mag nooit sy Naam oneer aandoen nie. Hulle is tog die mense wat die vuuroffer vir die Here bring en so aan God voedsel verskaf. Daarom moet hulle heilig bly.

7. “Die priesters mag nie met vroue trou wat onrein is as gevolg van prostitusie nie. Die priesters mag ook nie trou met vroue wat geskei is nie, want priesters is vir God afgesonder as heilig.

8. Julle moet hulle as heiliges behandel omdat hulle offers vir julle God bring. Ag die priesters as heilig, want Ek, die Here, is heilig en Ek maak julle heilig.

9. As ’n priester se dogter ’n prostituut word en so haar pa se heiligheid onrein maak, moet sy verbrand word.

10. “Die hoëpriester, oor wie se kop salfolie uitgegiet is en wat georden is om spesiale priesterklere te dra, mag nooit sy hare laat los hang of sy klere skeur om te rou nie.

11. Hy mag homself nooit verontreinig deur naby ’n lyk te kom nie, selfs al is dit sy pa of ma.

12. Hy mag nie die heiligdom van sy God ontheilig deur dit te verlaat om ’n begrafnis by te woon nie. Hy is immers deur die salfolie van sy God heilig gemaak. Ek is die Here.

Levitikus 21