Johannes 21:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.” Hulle het die net toe uitgegooi, en kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis.

7. Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy klere aangetrek, want hy was halfpad kaal, en hy het in die water gespring.

8. Die ander dissipels het solank met die bootjie nadergekom, want hulle was nie ver van die land af nie, ongeveer 100 meter, en hulle het die net met visse land toe gesleep.

9. Toe hulle aan land kom, sien hulle ’n vuurtjie met ’n vis wat daarop lê, en daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle:

10. “Bring van die vis wat julle so pas gevang het.”

11. Simon Petrus het in die boot geklim en die net aan land getrek. Dit was vol groot visse, 153 van hulle. Al was daar só baie, het die net nie geskeur nie.

12. Jesus het hulle uitgenooi: “Kom kry ontbyt.” Nie een van sy dissipels het dit gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het net geweet dat dit die Here is.

13. Jesus het nadergekom, die brood geneem en aan hulle uitgedeel, net so ook die vis.

14. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

15. Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?”Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.”

16. Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus.Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.”

17. ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape.

Johannes 21