Johannes 19:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, het hulle nog harder geskree: “Kruisig hom! Kruisig hom!”“Neem júlle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie,” sê Pilatus daarop aan hulle.

7. Die Jode het hom geantwoord: “Ons beskik oor ’n wet en daarvolgens moet hy sterf omdat hy homself as die Seun van God voorgehou het.”

8. Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword,

9. sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie.

10. Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?”

11. Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.”

12. Na aanleiding hiervan het Pilatus Jesus probeer vrylaat, maar die Jode het dit uitgeskreeu: “As u hom bevry, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as ’n koning voorhou, is in konflik met die keiser!”

13. Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees ‘Gabbata’.

14. Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle Koning!”

15. Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?”Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.”

16. Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei.

Johannes 19