Johannes 11:36-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. Die Jode sê toe: “Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!”

37. Sommige van die omstanders het gesê: “Was hierdie man wat die oë van die blinde oopgemaak het, dan nie ook in staat om te keer dat Lasarus sterf nie?”

38. Jesus het weer bewoë geword toe Hy by die graf kom. Die graf was ’n grot en ’n klip was voor die opening gerol.

39. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, Lasarus se suster, sê vir Jesus: “Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag.”

40. Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?”

41. Daarop het hulle die klip weggerol. Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het.

42. Ek weet dat U altyd na My luister, tog het Ek dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom ons staan, dat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43. Nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n kragtige stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!”

44. Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ’n kopdoek. Jesus sê vir hulle: “Maak die doeke los en laat hom gaan.”

45. Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom begin glo.

46. Sommige van hulle het egter na die Fariseërs toe gegaan en by hulle gaan skinder oor wat Jesus gedoen het.

47. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Sanhedrin bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man hou aan om baie wondertekens te doen.

Johannes 11