8. Jeremia het nog ’n boodskap by die Here gekry. Dit was nadat koning Sedekia ’n verbond met al die mense in Jerusalem gesluit het om vryheid vir hulle slawe aan te kondig.
9. Hy het hulle beveel om al hulle Hebreeuse slawe, mans en vroue, vry te laat. Geen Judeër is toegelaat om ’n ander Judeër as slaaf aan te hou nie.
10. Die amptenare en al die mense van Juda het aanvanklik gedoen wat die koning beveel het. Almal wat die verbond aangegaan het om hulle manlike en vroulike slawe vry te laat, was gehoorsaam en het hulle vrygelaat.
11. Maar later het hulle weer anders besluit. Hulle het die mans en die vroue wat hulle vrygelaat het, teruggeneem en weer hulle slawe gemaak.
12. Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
13. “Ek, die Here, die God van Israel, sê die volgende: Lank gelede het Ek julle voorouers as slawe in Egipte vrygemaak. Ek het toe met hulle ’n verbond gesluit.
14. Aan die einde van sewe jaar moes hulle elke mede-Hebreër wat aan hulle verkoop was, vrylaat. Ná sulke mense ses jaar diens gedoen het, moes hulle vrygelaat word. Maar julle voorouers was ongehoorsaam en het dit nie gedoen nie.
15. Toe julle onlangs besef dat dit verkeerd was, het julle reg gedoen en My gehoorsaam. Julle het julle eie mense vrygelaat en in my tempel ’n verbond met My gesluit.