1. Met die aanvang van die regering van koning Jojakim van Juda het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Jojakim was die seun van Josia.
2. Die Here het gesê: “Gaan staan voor die tempel van die Here en sê vir die mense wat uit al die dorpe van Juda na die tempel kom om die Here te aanbid alles wat Ek jou beveel het om te sê. Moenie een woord verswyg nie.
3. Miskien sal hulle luister en ophou om die verkeerde dinge te doen. Dan kan Ek my planne om hulle te vervolg vir die slegte dade wat hulle doen, verander.
4. Sê vir hulle die Here sê: ‘Ek het my gebooie vir julle gegee om te gehoorsaam.
5. Ek het ook keer op keer my diensknegte – die profete – na julle gestuur, maar julle wou nie na hulle boodskappe luister nie. As julle nie luister nie,
6. sal Ek hierdie tempel verwoes soos Ek Silo verwoes het. Dit sal so sleg gaan met die stad dat die nasies dit soos ’n vloekwoord sal gebruik.’”
7. Die priesters, die profete en al die mense het na Jeremia geluister toe hy hierdie boodskap voor die tempel van die Here oorgedra het.
8. Jeremia het alles gesê wat die Here hom beveel het om vir die hele volk te sê. Toe hy klaar gepraat het, het die priesters, profete en die hele volk hom aangeval en geskreeu: “Maak hom dood!”