14. Baie van die nasies met magtige konings sal van die Babiloniërs slawe maak. Op dié manier sal Ek hulle terugbetaal vir alles wat hulle aan julle gedoen het.”
15. Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Hierdie wynbeker in my hand is vol van my woede. Neem dit na die nasies waarheen Ek jou stuur en laat hulle daaruit drink.
16. As hulle daaruit drink, sal hulle slinger. Hulle sal rasend raak weens die oorlog waarin Ek hulle laat beland.”
17. Ek het toe die beker by die Here gevat en na al die nasies gegaan na wie Hy my gestuur het. Ek het hulle uit die beker laat drink.
18. Jerusalem en die ander dorpe van Juda het uit die beker gedrink, saam met hulle konings en leiers. Van toe af is die land verwoes en verlate gemaak, ’n voorwerp van spot en ’n vloek. Dit is vandag nog steeds die geval.