Handelinge 18:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Hy is toe daar uit, en het na die huis reg langs die sinagoge gegaan. Dit het behoort aan Titius Justus, ’n nie-Jood wat die ware God aanbid het.

8. Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huishouding het tot geloof in die Here gekom. Ook baie Korintiërs het in reaksie op die boodskap gelowig geword en is gedoop.

9. Een nag het die Here deur ’n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie begin stilbly nie,

10. want Ék is by jou. Niemand sal ’n hand op jou lê om iets slegs aan jou te doen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

11. Paulus het die stad vir ’n jaar en ses maande lank sy basis gemaak en die mense onderrig in die woord van God.

12. Toe Gallio egter goewerneur van Agaje geword het, het sommige Jode ’n verenigde front teen Paulus gevorm en hom voor die hof gedaag.

13. Hulle het Paulus daarvan aangekla dat hy die mense “probeer oorhaal om God op maniere te vereer wat teen die wet is”.

14. Net toe Paulus homself wou begin verdedig, sê Gallio vir die Jode: “As dit oor ’n onreg of ’n ernstige misdaad gegaan het, Jode, sou ek julle klag aangehoor het.

15. Maar aangesien dit ’n twis is oor ’n boodskap en name en oor julle eie wet, moet julle self daaraan aandag gee. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.”

16. Hy het die hof toe verdaag.

17. Die klaers het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie.

18. Paulus het nog etlike dae in Korinte gebly, en toe van die gelowiges afskeid geneem. Hy het Sirië toe weggevaar, en Priscilla en Akwila is saam met hom. (In Kengreë het hy sy hare laat skeer omdat hy ’n gelofte gedoen het.)

19. By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote by die hawe gelos en self die sinagoge besoek. Daar het hy met die Jode geredeneer.

Handelinge 18