5. Maar moenie julleself verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word.
6. Twee jaar hongersnood is verby, maar daar lê nog vyf jaar voor. In dié tyd sal daar nie geploeg en geoes kan word nie.
7. God het my voor julle uit gestuur om voorsorg te tref dat julle en julle gesinne aan die lewe kan bly en sodat julle ’n groot nasie kan word.
8. Ja, dit is God wat my gestuur het en nie julle nie! Hy het gesorg dat ek as Farao se raadgewer aangestel word, en ook as bestuurder van sy hele huishouding en heerser oor die hele Egipte.
9. “Maak nou gou. Gaan terug na my pa toe en sê vir hom: ‘Dit is wat Pa se seun Josef sê: God het my heerser van die hele Egipte gemaak. Kom dadelik hierheen!
10. Pa kan in die streek van Gosen woon sodat Pa naby my kan wees saam met Pa se kinders en kleinkinders, kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit.
11. Ek sal daar vir Pa sorg, want daar is nog vyf jaar hongersnood oor. Anders sal Pa en almal saam met Pa totaal verarm.’”
12. Josef sê verder: “Julle kan nou self sien, en ook my broer Benjamin kan sien, dit is regtig ek, julle broer Josef wat met julle praat!
13. Gaan vertel my pa hoe geëerd ek in Egipte is. Vertel hom wat julle alles gesien het en bring hom so gou moontlik hiernatoe.”
14. Terwyl hy huil van vreugde, omhels hy vir Benjamin, wat ook begin huil het.
15. Daarna het Josef elkeen van sy broers omhels en by hulle gehuil. Toe eers het hulle met hom begin praat.
16. Die nuus het die farao baie gou bereik: “Josef se broers het gekom!” Die farao en sy amptenare was baie bly om dit te hoor.
17. Die farao sê vir Josef: “Sê vir jou broers om hulle donkies op te saal en terug te gaan na Kanaän toe
18. en julle pa en hulle gesinne na my toe te bring. Sê vir hulle: ‘Farao sal die beste deel van Egipte aan julle gee. Van die room van die land sal julle geniet!’
19. Verder beveel ek jou dat hulle waens uit Egipte moet saamvat om daarop hulle vroue en kinders en hulle pa hierheen te bring.