Genesis 37:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Toe Josef daar aankom, het hulle hom sy spoggerige kleed laat uittrek

24. en hom in die put gegooi. Dit was op daardie tydstip kurkdroog.

25. Net toe hulle gaan sit om te eet, sien hulle ’n klomp kamele in die verte in hulle rigting aankom. Dit was ’n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem.

26. Sy ander broer Juda sê toe vir die ander: “Watter voordeel is daar vir ons om ons broer dood te maak en dit geheim te hou?

27. Kom ons verkoop Josef aan daardie Ismaelitiese handelaars. Ons moenie vir sy dood verantwoordelik wees nie. Per slot van rekening is hy ons broer!” Sy broers het saamgestem.

28. Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe.

29. Toe Ruben later terugkom om Josef uit die put te haal, was Josef nie meer daar nie. Hy skeur sy klere en

30. gaan terug na sy broers toe en roep uit: “Die seun is weg! Wat kan ek nou doen?”

31. Josef se broers slag toe ’n bokkie en druk die kleed in sy bloed.

32. Daarna stuur hulle die bloedbesmeerde kleed na hulle pa toe. “Ons het dit in die veld gekry,” sê hulle. “Is dit nie dalk Josef s’n nie?”

33. Hulle pa het dit dadelik herken. “Ja,” sê hy. “Dit is my seun se kleed. Dis seker ’n wilde dier wat hom gevang en opgevreet het. Josef is sekerlik verskeur!”

34. Toe skeur Jakob sy klere en trek rouklere aan. Hy het baie dae lank oor sy seun getreur.

Genesis 37