Genesis 37:15-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Iemand het hom gesien terwyl hy daar rondloop. “Waarna soek jy?” vra hy.

16. “Ek soek my broers en hulle troppe vee,” antwoord Josef. “Het jy hulle dalk gesien?”

17. “Ja,” antwoord die man, “maar hulle is nie meer hier nie. Ek het gehoor jou broers sê hulle gaan na Dotan toe.” Josef is na Dotan toe en het hulle daar gekry.

18. Toe sy broers hom sien aankom, het hulle hom van ver af herken en planne beraam om hom dood te maak.

19. “Hier kom daardie dromer!” het hulle uitgeroep.

20. “Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n diep put. Ons kan ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien wat word van sy drome!”

21. Maar Ruben het vir hom in die bres getree. “Ons moenie hom doodmaak nie,” sê hy.

22. “Hoekom sal ons bloed vergiet? Kom ons gooi hom lewendig in hierdie put in die woestyn. Dan sal hy sterf sonder dat ons hom self doodgemaak het.” Ruben het stilletjies beplan om Josef te help ontsnap en hom dan na sy pa terug te stuur.

23. Toe Josef daar aankom, het hulle hom sy spoggerige kleed laat uittrek

24. en hom in die put gegooi. Dit was op daardie tydstip kurkdroog.

25. Net toe hulle gaan sit om te eet, sien hulle ’n klomp kamele in die verte in hulle rigting aankom. Dit was ’n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem.

26. Sy ander broer Juda sê toe vir die ander: “Watter voordeel is daar vir ons om ons broer dood te maak en dit geheim te hou?

27. Kom ons verkoop Josef aan daardie Ismaelitiese handelaars. Ons moenie vir sy dood verantwoordelik wees nie. Per slot van rekening is hy ons broer!” Sy broers het saamgestem.

28. Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe.

29. Toe Ruben later terugkom om Josef uit die put te haal, was Josef nie meer daar nie. Hy skeur sy klere en

Genesis 37