Genesis 35:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. God sê toe vir Jakob: “Trek verder en gaan woon by Bet-El. Bou daar vir My ’n altaar. Ek is die God wat aan jou verskyn het toe jy destyds weggevlug het van jou broer Esau af.”

2. Jakob beveel toe almal in sy huishouding: “Raak ontslae van julle afgodsbeelde, was julle en trek skoon klere aan.

3. Ons gaan nou na Bet-El toe waar ek ’n altaar wil bou tot eer van die God wat my gebede verhoor het toe ek in die verknorsing was. Hy was oral by my waar ek gegaan het.”

4. Hulle gee toe al hulle afgodsbeelde en oorringe vir Jakob. Hy het dit onder die boom naby Sigem begrawe.

5. Terwyl hulle wegtrek, het daar so ’n verskrikking van God oor die mense van die omgewing gekom dat niemand eers gewaag het om Jakob en sy seuns te agtervolg nie.

6. Jakob-hulle het by Lus, nou Bet-El genoem, in Kanaän aangekom.

7. Daar bou hy ’n altaar en noem dit El-Bet-El, want God het hier by Bet-El aan hom verskyn toe hy vir Esau gevlug het.

8. Kort daarna het Debora, die slavin wat vir Rebekka grootgemaak het, gesterf. Hulle het haar onder die groot boom naby Bet-El begrawe. Hulle het dit Huilboom genoem.

9. Na Jakob se terugkeer uit Paddan-Aram het God weer ’n keer aan hom verskyn. God het hom geseën

10. en gesê: “Jou naam is nie langer Jakob nie. Jy sal van nou af Israel genoem word.”

11. God het verder gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word ’n groot nasie. Baie nasies sal uit jou voortkom. Daar sal selfs konings onder hulle wees.

Genesis 35