Genesis 3:4-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. “Julle sal nie sterf nie!” sê die slang.

5. “God weet dat julle oë sal oopgaan wanneer julle daarvan eet. Julle sal dan net soos God wees en weet van goed en kwaad.”

6. Dit het die vrou oortuig. Wanneer sy na die boom kyk, lyk die vrugte mooi en aanloklik, geskik om ’n mens verstandig en slim te maak. Sy pluk ’n vrug van die boom, eet daarvan en gee vir haar man by haar; en hy het ook geëet.

7. Toe gaan hulle oë werklik oop en besef hulle dat hulle sonder klere is. Hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle omgehang om hulleself toe te maak.

8. Teen die aand hoor hulle hoe die Here God in die tuin loop. Hulle kruip toe weg tussen die bome.

9. Die Here God het toe na die mens geroep: “Waar is jy?”

10. Hy antwoord: “Ek het U hoor aankom in die tuin en gaan wegkruip. Ek was bang omdat ek sonder klere is.”

11. “Wie het vir jou gesê dat jy sonder klere is?” vra die Here God. “Het jy dan van die boom geëet wat Ek jou beveel het om nie te eet nie?”

12. “Ja,” erken die mens, “dit was die vrou wat U aan my gegee het wat die vrugte vir my aangebied het, en toe het ek daarvan geëet.”

13. Daarop vra die Here God vir die vrou: “Hoe kon jy so ’n ding doen?”“Die slang het my bedrieg,” antwoord sy. “Dis hoekom ek geëet het.”

14. Toe sê die Here God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere op die aarde. Op jou pens sal jy seil en stof sal jy eet so lank as wat jy lewe.

15. Van nou af sal jy en die vrou vyande wees. Dit geld ook vir jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop inslaan en jy sal hom noodlottig aan die hakskeen byt.”

16. Vir die vrou sê Hy: “Ek sal jou swangerskap moeilik maak; met pyn en lyding sal jy kinders in die wêreld bring. Jou begeerte sal na jou man wees, maar hy sal oor jou heers.”

Genesis 3