Genesis 27:17-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Toe gee sy hom die geurige vleisgereg en ook vars gebakte brood.

18. Jakob het dit na Isak toe geneem en gesê: “Pa?”“Ja, my seun,” antwoord hy. “Wie is dit, Esau of Jakob?”

19. Jakob antwoord hom: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gemaak soos Pa gesê het. Kom sit regop en eet van die wildsvleis. Dan kan Pa my seën.”

20. Maar Isak vra: “Hoe is dit dat jy dit so gou kon doen, my seun?” “Omdat die Here, u God, dit oor my pad laat kom het!” antwoord Jakob.

21. Isak sê toe vir Jakob: “Kom ’n bietjie hier dat ek aan jou kan vat om seker te maak jy is regtig Esau.”

22. Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom en sê: “Die stem klink soos Jakob s’n, maar die hande is dié van Esau.”

23. Hy kon Jakob nie herken nie omdat Jakob se hande net so harig soos dié van Esau gevoel het. Isak seën toe vir Jakob.

24. “Is jy regtig my seun Esau?” vra hy.“Natuurlik, Pa!” antwoord Jakob.

25. Toe sê Isak: “Bring vir my die wildsvleis sodat ek dit kan eet. Dan sal ek jou my seën gee.” Jakob het dit vir hom gebring en Isak het geëet. Hy het ook die wyn gedrink wat Jakob bedien het. Toe sê Isak:

26. “Kom nader en soen my, my seun.”

Genesis 27