24. Want Ek maak julle bymekaar uit al die nasies en bring julle huis toe na julle eie land toe.
25. “Dan was Ek julle met skoon water, en julle sal skoon wees. Ek maak julle skoon van julle vuilheid en julle afgode.
26. Ek gee julle ’n nuwe hart met die regte begeertes en ’n nuwe gees. Ek vat die ou hart van sonde weg en gee julle ’n nuwe, gehoorsame hart.
27. En Ek gee my Gees in julle sodat julle my voorskrifte sal gehoorsaam en doen wat Ek beveel.
28. “Julle sal in die land bly wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.
29. Ek maak julle skoon van alles wat julle lewe besoedel het. Ek gee julle goeie oeste. Julle sal hongersnood nie ken nie.
30. Ek gee vir julle vrugte aan die bome en goeie oeste op die landerye. Nooit sal julle buurlande weer met julle land kan spot oor sy hongersnood nie.
31. Dan sal julle onthou hoe julle vroeër gesondig het, en julleself haat vir al die bose dinge wat julle gedoen het.
32. Maar onthou, sê die oppermagtige Here, Ek doen dit nie omdat julle dit verdien nie. Wees skaam en laat hang julle koppe oor julle gedrag, mense van Israel!
33. “So sê die oppermagtige Here: Wanneer Ek julle skoonmaak van julle sondes, bring Ek mense om in julle stede te leef. Die puinhope sal herbou word.
34. In plaas daarvan dat dit kaalgestroop lê voor almal wat daar verbygaan, sal die verlate velde weer bewerk word.