23. Ek gaan julle wys hoe heilig Ek is, Ek vir wie die nasies respek verloor het deur julle optrede. En as Ek my heiligheid deur julle voor hulle oë openbaar, sê die oppermagtige Here, sal die nasies besef dat Ek die Here is.
24. Want Ek maak julle bymekaar uit al die nasies en bring julle huis toe na julle eie land toe.
25. “Dan was Ek julle met skoon water, en julle sal skoon wees. Ek maak julle skoon van julle vuilheid en julle afgode.
26. Ek gee julle ’n nuwe hart met die regte begeertes en ’n nuwe gees. Ek vat die ou hart van sonde weg en gee julle ’n nuwe, gehoorsame hart.
27. En Ek gee my Gees in julle sodat julle my voorskrifte sal gehoorsaam en doen wat Ek beveel.
28. “Julle sal in die land bly wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.
29. Ek maak julle skoon van alles wat julle lewe besoedel het. Ek gee julle goeie oeste. Julle sal hongersnood nie ken nie.
30. Ek gee vir julle vrugte aan die bome en goeie oeste op die landerye. Nooit sal julle buurlande weer met julle land kan spot oor sy hongersnood nie.
31. Dan sal julle onthou hoe julle vroeër gesondig het, en julleself haat vir al die bose dinge wat julle gedoen het.
32. Maar onthou, sê die oppermagtige Here, Ek doen dit nie omdat julle dit verdien nie. Wees skaam en laat hang julle koppe oor julle gedrag, mense van Israel!