Esegiël 20:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op 14 Augustus, in die sewende jaar van koning Jojagin se ballingskap, het sommige leiers van Israel by die Here kom raad vra. Hulle het voor my gesit en op sy antwoord gewag.

2. Toe het die Here hierdie boodskap vir my gegee:

3. “Mensekind, sê vir die leiers van Israel die oppermagtige Here sê: Hoe durf julle My kom vra vir raad? So seker as wat Ek leef, Ek sal vir julle geen raad gee nie. Dit sê die oppermagtige Here.

4. “Mensekind, oordeel jý oor hulle; jý moet hulle veroordeel! Vertel vir hulle hoe afskuwelik die optrede van hulle voorouers regtig was.

5. Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Toe Ek Israel uitverkies het en Myself aan haar in Egipte openbaar het, het Ek, die Here, vir Israel gesweer: ‘Ek, die Here, is jou God.’

6. Ek het belowe dat Ek haar en haar nageslag uit Egipte sou bring na ’n land wat Ek vir hulle uitgesoek het. Dit is ’n land van oorvloed waar melk en heuning volop is, die beste van alle lande.

7. Toe het Ek vir hulle gesê: ‘Elkeen van julle moet julle afgode nou weggooi. Moenie julle besoedel met Egiptiese afgode nie, want Ek, die Here, is julle God.’

8. “Maar hulle was opstandig teen My en wou nie luister nie. Hulle het nie hulle afgode weggegooi en nie die Egiptiese gode gelos nie. Toe het Ek gedreig dat Ek my wraak oor hulle sou uitgiet om my woede op hulle af te koel terwyl hulle nog in Egipte is.

9. Maar, om my eer te beskerm het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies in die omgewing Israel se God spot en vir Israel lag. Hy het immers belowe om sy volk te red.

10. “Daarom het Ek my volk uit Egipte gebring en in die woestyn ingelei.

11. Daar het Ek vir hulle my voorskrifte gegee en my bepalings bekendgemaak sodat elkeen wat daaraan gehoorsaam is, kon bly lewe.

12. En Ek het vir hulle my Sabbatte gegee as dae van rus, as ’n teken van die verhouding tussen My en hulle. So wou Ek hulle daaraan herinner dat Ek, die Here, hulle afgesonder het om heilig en spesiaal te wees.

Esegiël 20