Eksodus 29:23-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Uit die mandjie wat voor die Here gebring is, moet jy een van die brode, ’n stuk plaatkoek waarin olyfolie is, en van die wafels waaroor olie gegooi is, neem.

24. Laat Aäron en sy seuns hulle hande hou en sit dit alles in hulle hande. Hulle moet dit dan uitsteek na die Here toe as ’n geskenk wat hulle vir die Here aanbied.

25. Vat dit daarna weer by hulle en verbrand dit op die altaar. Dit is ’n brandoffer wat vir die Here aanneemlik is.

26. Vat die borsstuk van die ram waarmee Aäron georden is en hou dit uit na die Here toe om dit aan Hom op te dra. Daarna mag jy dit vir jouself hou om te eet.

27. “Die heilige dele van die ram wat gebruik is om Aäron en sy seuns te orden, moet vir hulle eenkant gesit word. Dit is die borsstuk en die boud wat na die Here toe uitgesteek is en aan Hom opgedra is.

28. Voortaan sal hierdie dele na Aäron en sy afstammelinge gaan wanneer die mense van Israel ’n vrede-offer of dankoffer vir die Here bring.

29. “Aäron se spesiale klere moet ook gebruik word wanneer sy opvolgers in sy plek gesalf en in hulle amp bevestig word.

30. Die seun van Aäron wat hom opvolg, moet hierdie klere sewe dae lank aanhou wanneer hy in die tabernakel ingaan en in die heiligdom met sy werk begin.

31. “Vat die vleis van die ram wat tydens die bevestiging gebruik is en maak dit gaar by ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is.

32. Aäron en sy seuns moet daar by die ingang van die tabernakel hierdie vleis en die brood wat in die mandjie oor is, eet.

33. Net hulle mag van die brood en vleis eet waarmee hulle tydens hulle bevestiging vir hulle versoening gedoen is. Die gewone mense mag glad nie daarvan eet nie omdat dit heilig is.

34. As daar die volgende môre nog van die gewyde vleis of brood oor is, moet dit heeltemal verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God eenkant gesit.

35. “Dit is hoe Ek jou beveel het jy Aäron en sy seuns in hulle werk moet bevestig. Die geleentheid hou sewe dae lank aan.

36. Jy moet elke dag ’n jong bul as sonde-offer bring met die oog op versoening. Bring ook ’n offer om die altaar te reinig. Gooi olie daaroor uit om dit aan die Here te wy.

Eksodus 29