Deuteronomium 3:13-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Die res van Gilead en die hele Basan – Og se voormalige koninkryk – het ek aan die halwe stam van Manasse gegee. (Die Argobgebied van Basan was voorheen bekend as die land van die Refaïete.

14. Jair, ’n leier uit die stam van Manasse, het die hele Argobgebied in Basan tot by die grens van Gesur en Maäkat gevat. Jair het die gebied na homself vernoem en dit die Dorpe van Jair genoem soos wat dit vandag nog bekend is.)

15. Gilead het ek vir Makir gegee.

16. Ek het die gebied van Gilead af tot by die middel van die Arnonkloof en van daar na die Jabbokrivier op die grens van die Ammoniete vir die stamme Ruben en Gad gegee.

17. Hulle het ook die Jordaanvallei met die Jordaanrivier en sy oostelike oewer van die See van Galilea af tot by die Dooie See met die Pisgahange aan die oostekant, gekry.”

18. “Gedurende dié tyd het ek hierdie opdrag gegee aan die stamme wat aan die oostekant van die Jordaan sou bly: ‘Al het die Here julle God hierdie land vir julle as julle eiendom gegee, moet al julle weerbare mans die Jordaan gewapen en gereed oorsteek, voor julle mede-Israeliete uit.

19. Julle vroue, kinders en julle baie diere mag agterbly in die stede wat ek aan julle gegee het.

20. Nadat die Here veiligheid aan die res van die Israeliete gegee het, soos wat Hy reeds aan julle gegee het, en wanneer hulle die land wat die Here julle God aan hulle oorkant die Jordaan gee, in besit geneem het, mag julle terugkeer na die land wat Ek aan julle gegee het.’”

21. “Ek het destyds vir Josua gesê: ‘Jy het al hierdie dinge gesien wat die Here God aan die twee konings gedoen het. Hy sal dieselfde doen met al die ko-nings aan die westekant van die Jordaan waarheen jy op pad is.

22. Moenie vir daardie nasies bang wees nie, want die Here julle God sal vir julle veg.’

23. “Ek het toe by die Here gepleit en gesê:

24. ‘Ag, oppermagtige Here, U het begin om u grootheid en krag aan u dienaar te wys. Is daar enige god in die hemel en op die aarde wat sulke groot dinge kan doen soos wat U doen?

25. Laat my deur die Jordaan trek om die wonderlike land aan die oorkant te sien, die mooi bergwêreld en die Libanonberg.’

26. “Maar die Here was kwaad vir my oor julle en wou nie na my luister nie. ‘Dit is genoeg!’ het Hy beveel. ‘Moenie weer met My hieroor praat nie.

Deuteronomium 3