Deuteronomium 29:22-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. “Dan sal die geslagte wat kom, julle kinders wat ná julle kom, en die vreemdelinge wat van ver lande af kom, die verwoesting van die land en siektes sien wat die Here teen hierdie land stuur.

23. Hulle sal vind dat die grond in swael en sout verander, met niks wat geplant kan word en niks wat kan groei nie, selfs nie eers ’n groen blaartjie nie. Dit sal net soos Sodom en Gomorra, Adma en Sebojim wees wat die Here in sy woede vernietig het.

24. Die naburige nasies sal vra: ‘Waarom het die Here so met hierdie land gemaak? Wat het Hom so kwaad gemaak?’

25. “Hulle sal ingelig word: ‘Dit het gebeur omdat die volk van die land die verbond verbreek het wat die Here, die God van hulle voorouers, met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gelei het.

26. Hulle het ander, vreemde gode gaan dien en aanbid, gode wat hulle nie geken het nie en wat ook nie vir hulle bedoel was nie.

27. Dit is waarom die Here se woede teen hierdie land ontbrand het en hoekom Hy al die vervloekings wat in hierdie boek beskryf is, oor die land gebring het.

28. Die Here was so woedend dat Hy sy volk uit die land geruk het en hulle in ballingskap in ’n ander land gaan gooi het, waar hulle vandag nog leef!’

29. “Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat wel bekendgemaak is, vir ons en ons nageslag vir altyd sodat ons kan lewe volgens die woorde van hierdie gebooie.”

Deuteronomium 29