17. Daarna het die twee leërs mekaar aangeval. Teen die einde van die dag het Dawid se manskappe vir Abner en die leër van Israel verslaan.
18. Joab, Abisai en Asael, die drie seuns van Seruja, was ook daardie dag daar. Asael kon so vinnig soos ’n wildsbok hardloop,
19. en hy het Abner agternagesit. Hy het hom meedoënloos agtervolg.
20. Toe Abner omkyk, roep hy uit: “Is dit jy, Asael?”“Ja, dis ek,” antwoord hy.
21. “Draai weg van my af,” sê Abner. “Pak liewer een van die jonger manne en vat sy wapens.” Maar Asael het geweier en het volgehou om hom te agtervolg.
22. Abner het weer vir hom geskree: “Hou op om my te agtervolg! Hoekom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”
23. Maar Asael wou nie kopgee nie. Abner het toe sy spies agtertoe deur sy agtervolger Asael se maag gesteek sodat dit by sy rug uitgekom het. Hy het op die grond geval en gesterf. Elkeen wat daar verbygekom het, het gaan stilstaan by die plek waar Asael doodgemaak is.
24. Joab en Abisai het egter vir Abner bly agternasit. Teen sononder kom hulle aan by die heuwel Amma naby Gia op die pad na die wildernis van Gibeon.
25. Daar bo-op die rant het Abner se manskappe uit Benjamin hulle rondom Abner geskaar en stelling ingeneem.
26. Abner skree toe vir Joab: “Moet ons altyd ons verskille met die swaard oplos? Besef jy nie dit sal net tot bitterheid lei nie? Wanneer gaan jy vir jou manskappe sê hulle moet ophou om hulle broers te agtervolg?”
27. Joab antwoord: “So waar as wat God leef, as jy nie nou gepraat het nie, sou die manskappe eers teen die oggend opgehou het om hulle broers te agtervolg.”
28. Joab het toe op die ramshoring laat blaas en sy manskappe het die agtervolging van Israel gestaak.