2 Kronieke 25:15-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Dit het die Here baie kwaad gemaak en Hy het ’n profeet gestuur om vir Amasia te vra: “Hoekom het u gode van ’n volk aanbid wat nie eens in staat was om hulle eie mense uit u hand te red nie?”

16. Maar die koning het hom in die rede geval en gesê: “Wanneer het ek jou raad gevra? Bly stil voordat ek jou doodmaak!”Die profeet is daar weg, maar het hom gewaarsku: “Ek weet dat God besluit het om u tot niet te maak omdat u dit gedoen het en nie my raad aanvaar het nie.”

17. Nadat hy met sy raadgewers beraadslaag het, het koning Amasia van Juda hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas seun van Joahas en kleinseun van Jehu gestuur: “Kom, laat ons mekaar in ’n geveg ontmoet!”

18. Maar Joas, koning van Israel, het koning Amasia van Juda soos volg geantwoord: “Daar in die Libanonberge het ’n doringbos ’n boodskap na die sederboom gestuur: ‘Gee jou dogter om met my seun te trou.’ Maar op daardie oomblik het ’n wilde dier van die Libanon verbygekom, op die doringbos getrap en dit vermorsel.

19. Jy mag baie trots wees omdat jy Edom verslaan het, maar my advies is dat jy tuisbly. Hoekom moet jy moeilikheid soek wat vir jou en die mense van Juda onheil sal bring?”

20. Amasia wou egter nie luister nie, want die Here het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee omdat hy die gode van Edom aanbid het.

21. Koning Joas van Israel het sy leër teen die leër van koning Amasia van Juda gereed gekry. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem.

22. Die leër van Israel het die leër van Juda totaal verslaan sodat hulle huis toe gevlug het.

23. Koning Joas van Israel het koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang en na Jerusalem toe geneem. Joas het sy leër beveel om ongeveer 180 meter van die muur van Jerusalem plat te slaan, dit is van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort.

24. Hy het al die goud en silwer en al die gereedskap weggevat uit die tempel van God wat onder toesig van Obed-Edom was. Hy het die skatte in die koninklike paleis gevat, en ook gyselaars geneem en na Samaria toe teruggegaan.

25. Amasia seun van koning Joas van Juda het nog vyftien jaar na die dood van koning Joas van Israel seun van Joahas gelewe.

26. Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se regering, van die begin tot die einde, is opgeteken in Die boek van die konings van Juda en Israel.

27. Nadat Amasia die rug gekeer het op die Here, was daar ’n sameswering teen sy lewe in Jerusalem. Daarom het hy na Lakis toe gevlug. Maar sy vyande het mense agter hom aangestuur en hulle het hom daar doodgemaak.

28. Sy liggaam is op ’n perd na Jerusalem toe teruggebring en hy is in die familiegraf in die Dawidstad begrawe.

2 Kronieke 25