1 Konings 8:22-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Daarna het Salomo in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Israel voor die altaar van die Here gaan staan en sy hande na die hemel toe uitgestrek.

23. Hy het gebid: “Here, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde bly betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien.

24. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul.

25. En nou, Here, God van Israel, laat tog ook u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, waar word. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy geleef het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’

26. Nou, God van Israel, bevestig tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid.

27. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het!

28. Luister tog na my gebed en smeking, Here my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar vandag tot U rig.

29. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig.

30. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog.

31. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en hy moet voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld kom aflê,

32. hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry.

1 Konings 8