Yesha'yahu 37:20-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. Nou, יהוה, ons God, bevry ons vanuit sy hand sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, יהוה, alleen God is.”

21. Toe stuur Yesha’yahu, die seun van Amotz, woord vir Hizkiyahu en sê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Omdat jy tot My gebid het aangaande Sangeriv, koning van Ashur,

22. is hierdie die woord wat יהוה teen hom uitgespreek het: “Sy het jou verag en met jou gespot, die maagdelike dogter van Tziyon; sy het haar kop agter jou geskud, die dogter van Yerushalayim!

23. Wie het jy onteer en sleg van gepraat? Teen wie het jy jou stem verhef en jou oë hoogmoedig opgelig? Teen die Afgesonderde Een van Yisra’el!

24. Deur jou diensknegte het jy יהוה onteer en jy het gesê: “Met my menigte strydwaens het ek gekom tot by die hoogtes van die berge, tot by die afgesonderdste dele van L’vanon en ek kap sy hoë seders af, die keur van sy sipresse en ek sal na sy hoogste pieke gaan, sy digste woud.

25. Ék het gegrawe en water gedrink en met die sool van my voete al die strome van Mitzrayim laat opdroog.”

26. Het jy nie gehoor nie? Ek het dit lank terug gedoen, van die oudste tye af het Ek dit beplan en nou het Ek dit laat gebeur dat jy versterkte stede tot puinhope sal verander.

27. Hulle inwoners was swak, hulle is ontsteld en verslane; hulle was soos plante van die veld en soos groen kruie, soos gras op die dakke, sagte grashalms, verskroei voordat dit volgroei is,

28. maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou inkom en hoe jy teen My woed.

29. Ek sal My haak in jou neus sit en My toom tussen jou lippe en jou terugdraai met die pad waarmee jy gekom het omdat jy teen My woed en omdat jou arrogansie opgekom het tot My ore.

30. Dan sal hierdie vir jou die teken wees: jy sal hierdie jaar eet wat vanself groei, in die tweede jaar wat van dieselfde opkom en in die derde jaar, saai, oes, plant wingerde en eet hulle vrugte.

31. Die oorlewendes wat oorgebly het van die huis van Y’hudah sal weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe,Hand 1:8 Die ywer van יהוה-Tzva’ot sal dit uitvoer.’

32. want vanuit Yerushalayim sal wat oorbly uitgaan en oorlewendes vanaf die berg Tziyon.

33. So sê יהוה daarom aangaande die koning van Ashur: ‘Hy sal nie na hierdie stad kom of daar ’n pyl na skiet nie en hy sal nie voor dit kom met ’n skild of ’n beleringswal teen dit gooi nie.

34. Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie na hierdie stad kom nie,’ sê יהוה,

35. ‘want Ek sal hierdie stad verdedig om dit te red om My eie en om My kneg Dawid se ontwil.’”

36. Toe het die engel van יהוה uitgegaan en een honderd vyf en tagtig duisend in die laer van Ashur verslaan en toe mense die oggend vroeg opstaan, let op, was hulle kamerade almal dood.

37. Sangeriv, koning van Ashur, het vertrek, teruggegaan en in Ninveh gebly.

38. Dit het gebeur terwyl hy hom neerbuig in die huis van Nisrokh, sy god, dat Adrammelekh en Shar’etzer, sy seuns, hom met die swaard doodgemaak het en hulle het ontvlug na die land van Ararat. Esar-Haddon, sy seun, het koning geword in sy plek.

Yesha'yahu 37