21. Bil’am het die oggend opgestaan, sy donkie opgesaal en saam met die leiers van Mo’av gegaan.
22. God se woede het gebrand omdat hy gegaan het en die Engel van יהוה het Homself as Teëstander in die pad geplaas. Hy het op sy donkie gery en sy twee diensknegte was saam met hom
23. en die donkie het die Engel van יהוה in die pad sien staan, met Sy swaard getrek in Sy hand en die donkie het uit die pad uitgedraai, die veld in. Bil’am het die donkie geslaan om haar na die pad toe terug te draai.
24. Die Engel van יהוה het in ’n smal pad van die wingerde gaan staan, met ’n muur aan dié kant en ’n muur aan die ander kant.
25. Toe die donkie die Engel van יהוה sien, druk sy haarself teen die muur en druk Bil’am se voet teen die muur sodat hy haar weer geslaan het.
26. Die Engel van יהוה het verder gegaan en gaan staan op ’n nou plek waar daar geen pad was om of regs of links uit te draai nie.
27. Toe die donkie die Engel van יהוה sien, gaan sy onder Bil’am lê en Bil’am se woede het gebrand en hy het die donkie met sy staf geslaan.
28. יהוה het die bek van die donkie oopgemaak en sy sê vir Bil’am: “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou al drie maal geslaan het?”
29. Bil’am antwoord die donkie: “Omdat jy met my gekskeer. Ek wens daar was ’n swaard in my hand, dan het ek jou teen die tyd doodgemaak.”
30. Die donkie sê vir Bil’am: “Is ek nie jou donkie waarop jy gery het vandat ek joune geword het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te maak?” Hy antwoord: “Nee.”
31. Toe maak יהוה Bil’am se oë oop en hy sien die Engel van יהוה in die pad staan met Sy uitgetrekte swaard in Sy hand en hy het neergebuig en op sy gesig op die grond geval.
32. Die Engel van יהוה vra vir hom: “Hoekom het jy jou donkie hierdie drie keer geslaan? Let op, Ek het as ’n Teëstander teen jou uitgekom, want jou pad loop onaanvaarbaar voor My uit!
33. Die donkie het My gesien en hierdie drie keer voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie, sou Ek jou nou doodgemaak en haar laat lewe het.”
34. Bil’am sê vir die Engel van יהוה: “Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie; daarom nou, as dit onaanvaarbaar in U oë is, sal ek teruggaan.”
35. Die Engel van יהוה sê vir Bil’am: “Gaan saam met die manne, maar net die woord wat Ek vir jou sê, dit moet jy praat.” Bil’am het saam met die leiers van Balak gegaan.
36. Toe Balak hoor dat Bil’am kom, het hy uitgegaan om hom te ontmoet by die stad van Mo’av, wat in die streek van die Arnon lê, by die grens van die streek.
37. Balak sê vir Bil’am: “Het ek nie dringend na jou gestuur om jou te laat roep nie? Waarom het jy nie na my toe gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te vereer nie?”