Dani'el 2:23-41 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Aan U, o God van my vaders, gee ek dank en ek prys U, wat aan my wysheid en krag gegee het en nou aan my bekend gemaak het wat ons van U gevra het, want U het die koning se saak aan ons bekend gemaak.”

24. In daardie selfde uur het Dani’el na Aryokh gegaan, vir wie die koning beveel het om die wyse manne van Bavel dood te maak; hy het gegaan en só vir hom gesê: “Moenie die wyse manne van Bavel vernietig nie, maar bring my in voor die koning en ek sal die betekenis aan die koning bekendmaak.”

25. Toe het Aryokh haastig vir Dani’el voor die koning ingebring en só vir hom gesê: “Ek het ’n man onder die ballinge van Y’hudah gevind wat vir die koning die betekenis sal gee.”

26. Die koning het geantwoord en vir Dani’el, wie se naam Belt’shatzar was, gesê: “Is jy in staat om vir my die droom wat ek gesien het en sy betekenis bekend te maak?”

27. Dani’el het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Die geheim wat die koning vereis het om te weet, kan geen wyse manne, voorspellers, towenaars of sterrekundiges aan die koning openbaar nie,

28. maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar en Hy het aan koning N’vukhadnetzar bekend gemaak wat in die laaste dae sal gebeur. U droom en die visioen in u kop, op u bed, was dit:

29. “Wat u betref, o koning, u gedagtes het in u verstand opgekom oor wat hierna sal gebeur en Hy wat geheime openbaar het aan u bekend gemaak wat sal gebeur,

30. maar wat my betref, hierdie geheim is nie aan my openbaar op grond van enige wysheid wat ek het, meer as enige persoon nie, maar ter wille van die betekenis sodat dit aan die koning bekend kan wees en dat u die gedagtes van u verstand kan ken.

31. U, o koning, het gekyk en let op, ’n groot beeld, wat se helderheid wonderlik was, het voor u gestaan en sy voorkoms was verskriklik.

32. Hierdie beeld se kop was van fyn goud, sy bors en arms van silwer, sy maag en dye van koper,

33. sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.

34. Toe het U gesien dat ’n klip losgesny word, sonder mensehande, wat die beeld getref het aan sy voete wat van yster en klei was en dit aan stukke gestamp het.

35. Toe is die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud almal saam in stukke gebreek en dit het soos die kaf van die dorsvloere in die somer geword en ’n sterk wind het hulle weggevat sodat geen plek vir hulle gevind kon word nie en die klip wat die beeld getref het, het ’n groot berg geword en die hele aarde gevul.

36. Hierdie is die droom; nou sal ek sy betekenis voor die koning vertel:

37. U, o koning, is ’n koning van die konings, want die God van die hemel het aan u ’n magtige koninkryk en eer gegeeYir 28:14

38. en elke land waarin mense woon, die voëls van die lug en die diere van die veld, het Hy onder u outoriteit geplaas en u heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud.

39. Ná u sal daar ’n ander koninkryk, geringer as u, opstaan en ook ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers.

40. Die vierde koninkryk sal sterk wees soos yster, want net soos yster alles hamer en in stukke breek, so sal dit elke koninkryk breek en oorwin.

41. Waar u die voete en tone gesien het as deels van pottebakkersklei en deels van yster, sal die koninkryk verdeeld wees, maar daarin sal sommige van die krag van yster wees, net soos u die yster met kleigrond gemeng gesien het.

Dani'el 2