Numeri 22:34-40 Die Boodskap (DB)

34. Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek is jammer oor wat ek gedoen het. Dit was verkeerd. Ek het nie besef U staan voor my in die pad nie. Ek sal omdraai as U nie wil hê ek moet verder gaan nie.”

35. Toe sê die Engel van die Here vir hom: “Nee, gaan saam met hierdie mense, maar jy mag net sê wat Ek vir jou sê, niks anders nie.”Bileam is toe verder saam met Balak se boodskappers.

36. Toe koning Balak hoor dat Bileam op pad is, is hy reguit na hom toe. Hulle het mekaar raakgeloop by ’n Moabitiese stad langs die Arnonrivier op die grens van sy gebied.

37. “Hoekom het jy nie gekom toe ek jou die eerste keer laat roep het nie?” het Balak vir Bileam gevra. “Het jy gedink ek sou jou nie goed genoeg betaal nie?”

38. Bileam het geantwoord: “Ek is mos nou hier. Maar onthou, ek kan niks uit my eie sê nie. Ek kan net sê wat God my toelaat om te sê.”

39. Bileam is saam met Balak daar weg na Kirjat-Gusot toe.

40. Daar het die koning beeste en skape as offers laat slag en vir Bileam en al die belangrike mense wat by hom was van die vleis gegee.

Numeri 22