20. Daardie nag het God weer met Bileam kom praat en vir hom gesê: “Aangesien hierdie manne jou kom haal het, gaan dan maar saam hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.”
21. Die volgende môre het Bileam sy donkie opgesaal en saam met die leiers van Moab vertrek.
22. Maar die Here het kwaad geword omdat Bileam saam met hulle gegaan het. Daarom het Hy die Engel van die Here gestuur om in Bileam se pad te kom staan. Bileam het op sy donkie gery met twee van die amptenare saam met hom.
23. Toe die donkie die Engel van die Here in die pad sien staan met ’n groot swaard in sy hand, het die donkie verskrik uit die pad uit gespring die veld in. Bileam het die donkie geslaan en hom teruggedwing pad toe.
24. Die Engel van die Here het toe gaan staan op ’n plek tussen die wingerde waar die pad baie nou was met ’n muur aan beide kante.
25. Toe die donkie die Engel van die Here daar sien staan, het hy probeer om tussen die Engel en die muur deur te skuur. In die proses het hy Bileam se voet teen die muur vasgedruk. Bileam was kwaad en het weer die donkie geslaan.
26. Die Engel van die Here het toe weer ’n ent vorentoe in die pad gaan staan. Hierdie keer was die pad so nou dat daar geen deurkomkans vir die donkie was nie.
27. Toe die donkie hierdie keer die Engel van die Here sien staan, het hy sommer net onder Bileam gaan lê. Bileam het in sy woede die donkie met sy stok toegetakel.
28. Toe laat die Here die donkie deur ’n wonderwerk met Bileam praat. “Dit is nou al die derde keer dat jy my so slaan,” het die donkie skielik vir Bileam gesê. “Wat het ek aan jou gedoen om dit te verdien?”
29. “Jy hou my vir die gek,” het Bileam gesê, “as ek ’n swaard by my gehad het, het ek jou net hier doodgemaak!”
30. Toe vra die donkie vir Bileam: “Is ek nie dieselfde donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Het ek al ooit voorheen so met jou gemaak?”“Nee,” moes Bileam erken.
31. Die Here maak toe Bileam se oë oop en hy het die Engel van die Here met sy groot swaard daar in die pad sien staan. Toe buig Bileam voor die Engel.