6. Sowat agt of nege dae later het Festus na Sesarea teruggekeer. Die dag na sy aankoms het hy sy plek in die regsaal ingeneem en beveel dat Paulus voor hom moes verskyn. Soos een man het die Jode wat uit Jerusalem gekom het vorentoe gehardloop en om Paulus kom staan.
7. Hulle het dadelik met allerhande beskuldigings teen hom losgetrek. Natuurlik kon hulle niks daarvan bewys nie.
8. Paulus se verdediging was kort en kragtig: “Ek het niks verkeerds gedoen teen die wet van die Jode, of teen die tempel, of teen die keiser nie.”
9. Festus wou egter in die Jode se goeie boekies bly. Daarom het hy vir Paulus gevra: “Sien jy kans om Jerusalem toe te gaan sodat ek jou daar kan verhoor?”
10. “Ek staan op hierdie oomblik tereg voor die regbank van die Romeinse keiser,” het Paulus geantwoord. “Dit is my reg as ’n Romeinse burger. Ek het nie ’n saak met die Jode nie.
11. Ek het niks verkeerds teen hulle gedoen nie. U weet dit baie goed. As ek ’n oortreding begaan het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om my straf te dra. Dan kan u my sommer hier en nou teregstel. Maar as die Jode se beskuldigings teen my nie bewys kan word nie, het niemand die reg om my aan hulle uit te lewer om hulle ’n guns te probeer bewys nie. Nou beroep ek my op my reg om deur die keiser self verhoor te word.”
12. Festus het ’n paar oomblikke met sy raadgewers oor Paulus se woorde beraadslaag. Toe het hy kort en kragtig sy uitspraak gegee: “Op die keiser het jy jou beroep. Na die keiser toe sal jy gaan!”
13. ’n Rukkie later het koning Agrippa en sy suster Bernice Sesarea besoek om Festus amptelik te kom verwelkom.
14. Na ’n paar dae het Festus vir Agrippa van die saak teen Paulus vertel. “My voorganger, Feliks, het ’n gevangene hier in die tronk agtergelaat,” het hy gesê.
15. “Toe ek in Jerusalem was, het die godsdienstige leiers van die Jode hierdie man van baie dinge beskuldig en gevra dat ek hom skuldig moes bevind.
16. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die manier is waarop ons Romeine te werk gaan nie. Ons lewer mense nie aan ander uit om hulle ’n guns te bewys nie. Ons maak eers seker dat die aangeklaagde ’n behoorlike kans gehad het om hom voor sy aanklaers te verdedig.
17. “Toe die Jode later Sesarea toe kom, het ek dadelik aan hierdie saak aandag gegee. Die volgende dag nog het ek beveel dat die man oor wie dit alles gaan voor my gebring moes word.
18. Toe hy inkom, het sy aanklaers met hulle aanklagte teen hom losgetrek. Ek was verbaas om te hoor dat hy nie van ’n misdaad beskuldig is nie.