Handelinge 25:16-27 Die Boodskap (DB)

16. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die manier is waarop ons Romeine te werk gaan nie. Ons lewer mense nie aan ander uit om hulle ’n guns te bewys nie. Ons maak eers seker dat die aangeklaagde ’n behoorlike kans gehad het om hom voor sy aanklaers te verdedig.

17. “Toe die Jode later Sesarea toe kom, het ek dadelik aan hierdie saak aandag gegee. Die volgende dag nog het ek beveel dat die man oor wie dit alles gaan voor my gebring moes word.

18. Toe hy inkom, het sy aanklaers met hulle aanklagte teen hom losgetrek. Ek was verbaas om te hoor dat hy nie van ’n misdaad beskuldig is nie.

19. Dit het toe oor ’n klomp godsdienstige verskille tussen hulle en hom gegaan, en oor ’n dooie man - sy naam is Jesus. Paulus beweer dat hy nog leef.

20. “Omdat ek nie mooi geweet het wat om te doen nie, het ek die gevangene gevra of hy Jerusalem toe wou gaan om daar verhoor te word. Maar hy het geweier.

21. Hy het hom toe beroep op sy reg om deur die keiser verhoor te word. Daarom het ek beveel dat hy in die tronk moet bly totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

22. Agrippa sê toe vir Festus: “Ek sou hom baie graag wou ontmoet.”Festus sê toe: “Ek reël dat u hom sommer môre nog te sien kry.”

23. Die volgende dag het Agrippa en Bernice met prag en praal in die amptelike saal ingekom waar hulle Paulus te woord sou staan. Almal wat iets of iemand in Sesarea was, van hooggeplaaste militêre offisiere tot by vooraanstaande sakemense, het ook opgedaag vir die geleentheid. Festus het die teken aan sy soldate gegee om Paulus te laat inkom.

24. “Koning Agrippa en ander geëerde gaste,” het Festus gesê, “hier is die man oor wie dit alles gaan. ’n Groot aantal Jode het my eers daar in Jerusalem, en later ook hier, gevra om hom dood te maak. Hulle voel baie sterk daaroor dat hy nie verdien om langer te leef nie.

25. Ek het sy saak ondersoek en vasgestel dat hy niks gedoen het wat die doodstraf regverdig nie. Aangesien hy hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom Rome toe te stuur.

26. Maar ek weet nie wat ek aan my heer, die keiser, oor hierdie man moet skryf nie, want hy het niks verkeerds gedoen nie.

27. “Daarom laat ek hom nou voor u almal verskyn. En veral ook voor u, koning Agrippa. U moet my help om die een of ander klag teen hom te formuleer. Dit sal darem nie goed lyk as ons ’n gevangene die hele ent pad Rome toe stuur sonder ’n behoorlike aanklag teen hom nie.”

Handelinge 25