1. Josef het toe alles vir die farao gaan vertel en gesê: “My pa en my broers het toe uiteindelik veilig uit Kanaän hier aangekom. Hulle het al hulle vee en besittings saamgebring. Hulle woon op die oomblik in die omgewing van Gosen.”
2. Josef het vooraf vyf van sy broers gevra om saam met hom na die koning toe te gaan.
3. Die koning het vir hulle gevra: “Wat is julle beroep?”Hulle het gesê: “Ons boer met kleinvee, U Majesteit. Net soos ons voorouers al jare lank doen.
4. Ons het Egipte toe gekom om hier ’n weiplek vir ons vee te soek. Die hongersnood in Kanaän is so erg dat daar geen kos vir mens of dier meer is nie. Eintlik is ons vreemdelinge hier, maar ons wil U Majesteit tog vra of ons nie in Gosen kan aanbly nie.”
5. Die farao het hom na Josef toe gedraai en gesê: “Uiteindelik is jou pa en jou broers hier!
6. Egipte lê vir hulle oop. Laat jou pa en jou broers in die beste dele van die land gaan bly. As hulle egter van Gosen hou, kan hulle daar aanbly. En as daar van jou broers is wat goeie veeboere is, kan hulle my veekuddes oppas.”
7. Toe het Josef Jakob laat binnekom en hom aan die koning voorgestel. Jakob het voor hom gebuig en die koning gegroet.
8. “Hoe oud is jy, Jakob?” het die koning gevra.
9. “Ek is al 130 jaar oud, U Majesteit,” het Jakob geantwoord. “Dit is eintlik nie oud nie. In vergelyking met my voorvaders is my jare maar min. My lewe was egter hard en vol swaarkry.”
10. Na ’n ruk het Jakob die koning gegroet en vertrek.
11. Josef het sy pa en broers gehelp om in Egipte gevestig te raak. Hy het hulle in Ramses, die beste deel van Gosen, laat woon en toegesien dat hulle grondregte besit. En hy het gemaak soos die koning gesê het.
12. Hy het ook elke dag vir hulle gesorg. Daar was genoeg vir almal. Van die oudste tot die jongste het kos gehad.
13. Intussen het die hongersnood so erg geword dat daar nêrens meer kos te koop was nie. Die mense van Egipte en Kanaän het al hoe swakker van die honger geword.
14. Josef het al die geld in Egipte en Kanaän waarmee die mense vir die koring betaal het, in die paleis bewaar.
15. Naderhand het die mense van Egipte en Kanaän nie meer geld gehad nie. Hulle het alles op koring en kos bestee. Die Egiptenaars het toe vir Josef gesê: “Asseblief, Meneer, gee tog net vir ons kos. Ons het niks om u mee te betaal nie, want al ons geld is op. Moet tog net nie dat ons van die honger doodgaan nie.”
16. “Goed,” het Josef geantwoord, “as julle geld op is, bring dan julle veekuddes. In ruil daarvoor sal ek vir julle kos gee.”
17. So het hulle dan hulle kuddes vir Josef gebring. In ruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies het Josef vir hulle kos gegee. In daardie jaar het Josef kos vir die mense se vee begin ruil.
18. Die volgende jaar het dit nog slegter gegaan en die mense het vir Josef gesê: “Meneer, ons kan dit nie meer wegsteek nie en daarom wil ons eerlik vir Meneer sê dat ons niks het nie. Al ons geld is op en al ons vee behoort aan u. Al wat ons nou nog het, is ons liggame en ons grond.