5. Daar in die veld het hy vir hulle gesê: “Julle pa se houding het verander. Hy is nie meer so vriendelik teenoor my soos vroeër nie. Gelukkig is die God van my pa nog by my.
6. Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het.
7. En tog het hy my gekul. Oor en oor. Hy het my loon voortdurend verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te breek nie,
8. want elke keer as Laban gesê het: ‘Die diere met spikkels is jou loon,’ is daar net gespikkeldes gebore. En as hy gesê het: ‘Die gestreepte diere is jou loon,’ was daar net gestreeptes.
9. So het God julle pa se diere weggeneem en dit vir my gegee.”
10. Jakob het verder vertel: “Eendag, dit was in die paartyd, het ek ’n droom gehad. Ek het gesien hoe gespikkelde, gestreepte en gevlekte bokramme met die ooie paar. Al die lammetjies wat gebore sou word, sou ook gespikkel, gestreep en gevlek wees.
11. “En terwyl ek nog so droom, roep die Engel van God my: ‘Jakob.’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek.’
12. “Die Engel het voortgegaan: ‘Ek het dit ook gesien. Al die ramme tydens paartyd was gespikkel, gestreep en gevlek. Alles wat Laban oor die jare aan jou gedoen het, het Ek raakgesien.
13. Jakob, Ek is die God van Bet-El. Daar het jy lank gelede ’n klip regop gesit, olie daaroor uitgegooi en toe ’n gelofte aan My gemaak. Los nou hierdie land en sy mense en gaan terug na die plek waar jy gebore is.’”
14. Toe Ragel en Lea alles gehoor het, het hulle gesê: “Is ons nog deel van ons pa en sy familie? Wag daar vir ons nog ’n erfporsie? Of het ons pa ons al lankal eenkant toe gestoot?
15. Hy het ons ook besteel. Hy het ons geld gevat en ons deel van die bruidskat vir hom geneem.
16. Al ons pa se rykdom wat God teruggeneem het, is eintlik ons en ons kinders s’n.” Ragel en Lea het toe vir Jakob gesê: “Doen wat God vir jou gesê het om te doen.”
17. Jakob het al sy vee bymekaargemaak en die troppe begin aanjaag. Sy vroue en kinders het hy op kamele gesit en hulle saam met die vee gestuur.
18. Alles wat Jakob oor die jare in Paddan-Aram versamel het, het hy weggestuur. En so was Jakob weer op pad, die keer na Kanaän, waar sy pa, Isak, gewoon het.
19. Hulle het ongemerk weggekom, want Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Voor hulle weg is, het Ragel egter stilletjies haar pa se huisgode gaan steel.
20. Jakob het Laban, die Arameër, so om die bos gelei dat hy niks vermoed het nie.
21. Jakob kon dus maklik met al sy besittings wegkom. Hulle was gou oor die Eufraatrivier en het in die rigting van Gilead se berge getrek.
22. Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend.
23. Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg.