4. Abram het toe alles gelos en weggegaan, net soos die Here vir hom gesê het. Sy broerskind, Lot, het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het.
5. Abram het sy vrou, Sarai, sy broerskind, Lot, en al die besittings wat hulle oor die jare opgegaar het, saamgevat. Al die mense wat vir Abram-hulle in Haran gewerk het, het ook saamgetrek. Hulle het in die rigting van Kanaän begin trek en na ’n lang tyd daar aangekom.
6. Abram het deur die land getrek en by Sigem gekom. Hy het digby die groot boom van More kamp opgeslaan. In daardie stadium het die Kanaäniete in die land gebly.
7. Die Here het aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Abram, hierdie land sal Ek nog vir jou en jou nageslag gee.” Abram was bly en het vir die Here wat aan hom verskyn het ’n altaar gebou.
8. Van daar af is hy bergwêreld toe en het net oos van Bet-El kamp opgeslaan. Waar sy tent gestaan het, was Bet-El aan sy westekant en Ai aan die oostekant. Hy het weer ’n altaar vir die Here gebou en daar gebid.
9. Daarna het Abram stuk vir stuk deur die hele suidelike woestyn getrek.
10. Na ’n ruk het daar hongersnood uitgebreek. Toe daar nie meer kos was nie, het Abram Egipte toe getrek. Hy kon nie anders nie, want daar was niks meer om te eet nie.
11. Naby Egipte se grens het Abram bang geword en vir sy vrou, Sarai, gesê: “Jy is ’n baie mooi vrou. Almal kan dit sien.
12. En dit is waarom ek vir die Egiptenaars bang is. As hulle jou sien, sal hulle jou wil hê. En as hulle agterkom ons is getroud, sal hulle my doodmaak, maar jou laat leef.
13. As die Egiptenaars jou uitvra, sê dan jy is my suster. Hulle sal dan vir my goed wees oor jou en my laat leef en vir jou ook. Net jy kan nog my lewe red.”